Beplande aksies

DIE VRYHEIDSEIS NA AMBASSADES -

Ons stryd eskaleer na die internasionale gemeenskap.

 

Geagte volksgenote;

Op 24 September 2011 het ons volk regdeur Suid-Afrika en die wêreld ‘n ope volksverkiesing gehou waartydens ‘n Volksraad verkies is. Hierdie Volksraad het dus ‘n mandaat om namens die volk te praat in die stryd om ons vryheid in ‘n eie, onafhanklike staat herstel te kry.

 

Op 13 Oktober 2012 het die Volksraad ‘n deeglik-voorbereide Vryheidseis in die openbaar bekendgestel; en ‘n afskrif daarvan aan die ANC-regering oorhandig. (Die Vryheidseis kan afgelaai word by http://volksraad.co.za/selfbeskikkings-eis/selfbeskikkingseis). In ooreenstemming met die vereistes van die Volkereg, word die ANC daarin aangemaan om hulle skending van ons reg op selfbeskikking te staak; en ‘n ooreenkoms met die Volksraad te tref in verband met ons eis van ‘n eie staat.

 

Die ANC het tot 30 November 2012 om op ons Vryheidseis te reageer. Tot dusver was die Regering se taktiek egter om hierdie saak te probeer ignoreer. Aangesien die Volkereg voorskryf dat die internasionale gemeenskap in so geval betrek moet word, het die Volksraad besluit dat die buitewêreld op 30 November 2012 kragtig en duidelik moet kennis neem ons reg op selfbeskikking word vertrap; dat ons dit nie aanvaar nie; en dat ons nie sal rus voor ons vryheid in ‘n eie vaderland weer herstel is nie!

 

Net jyself en die res van ons kan ons Vryheidseis in daardie brandende vraagstuk omskep, wat die ANC en die buitewêreld nie langer kan ignoreer nie.

 

Dit gaan die boodskap wees wanneer ons op 30 November 2012 by vier ambassades in Pretoria, en ook by die kantore van die VN saamtrek: Alle volksgenote vir wie dit enigsins moontlik is, moet asseblief aanmeld by die ambassade van die staat waaruit jou stamvader na suider-Afrika gekom het – as jy ‘n Duitse stamvader het by die Duitse ambassade; mense met Nederlandse stamvaders by die Nederlandse ambassade; en diegene met ‘n Franse stamvader by die Franse ambassade. Persone met ‘n stamvader wat uit enige ander wêrelddele gekom het, moet asseblief aanmeld by die Amerikaanse ambassade. Indien jy onseker is oor die afkoms van jou stamvader: Raadpleeg die VVK se webwerf by www.vvk.co.za en klik op die skakel “30 November ‘12”.

 

By elk van hierdie ambassades sal ‘n Volksraadslid voorgaan en die Vryheidseis voorhou in Afrikaans; met ‘n weergawe wat ook in die taal van die betrokke ambassade voorgelees, en aan ‘n ambassade-verteenwoordiger oorhandig sal word. Daarna sal die vier verskillende groepe na die kantoor van die Verenigde Nasies beweeg, waar die Vryheidseis eweneens afgelewer sal word.

 

Waar is die saamtrekpunte?

  1. Nederlandse ambassade: Koningin Wilhelmina Rylaan 210 (h/v Koningin Wilhelmina Rylaan en Muckleneuk Straat), Nieuw Muckleneuk,  Pretoria.
  2. Duitse ambassade: Blackwoodstraat 180, Arcadia, Pretoria (net oos van die Uniegebou-gronde).
  3. Franse ambassade: Melkstraat 250 (h/v Middel- en Melkstraat), Nieuw Muckleneuk, Pretoria.
  4. Amerikaanse ambassade: Pretoriusstraat 877 (h/v Pretorius- en Eastwoodstrate), Arcadia, Pretoria.
  5. VN-kantore: Schoemanstraat 351 (h/v Schoeman- en Prinsloostrate), middestad van Pretoria.

 

Hoe laat begin ons?

Vrydag, 30 November 2012, 09h30 vir 10h00 by al die onderskeie ambassades tegelyk. Verrigtinge by die VN-kantore sal laastens teen 13h00 afgehandel wees. By elke versamelpunt sal Volksraad-personeel wees wat sorg vir die goeie orde – werk asseblief met hulle saam.

 

Wat kan ek saambring?

Enige van die volgende: Ons eie volksvlae; vlae van die betrokke stamlande; en/of baniere en plakkate in Afrikaans en in die betrokke tale, wat ons volk se verdrukking en ons eis vir vryheid en onafhanklikheid weergee.

 

KOM ONS KYK BY WATTER AMBASSADE DIE MEESTE VOLKSGENOTE OPDAAG…

 

Bevestig waar moontlik jou teenwoordigheid; en rig moontlike navrae aan:

[email protected]

of skakel 084 870 8805

of kontak die VVK by (012) 803 0712.

 

Laai die ‘Google Earth’ plekmerkie HIER af om te sien waar die ambassades is.

(Google Earth kan gratis afgelaai word by http://www.google.com/earth/index.html)

 

Moenie net kla nie, maak ‘n verskil en WEES DAAR!