24 Junie 2014

MEDIAVERKLARING: REGERING VRA UITSTEL

In die Boere-Afrikanervolksraad se aansoek by die Hooggeregshof om die Regering te dwing om sy standpunt oor samesprekings in verband met selfbeskikking vir die Boere-Afrikanervolk, te stel, het die Staatsprokureur, wat vir die Regering optree, versuim om sy beantwoordende verklaring teen die spertyd wat deur die hofreëls neergelê word, in te dien. Dié sperdatum het op 19 Junie verstryk.

 

Die dag daarna het die Volksraad se regsverteenwoordiger ‘n dringende faks (wat teruggedateer is na 18 Junie) van die Staatsprokureur ontvang waarin ‘n maand uitstel vir die indiening daarvan versoek word. Verskeie redes word vir die versoek aangevoer waarvan slegs twee na die mening van die Volksraad gewig dra, te wete (1) die aanwysing ná die onlangse verkiesing van ‘n nuwe minister vir die Dept van Jusitisie (voorheen Justisie en Konstitusionele Sake), wat hom eers op hoogte moet stel met die aangeleentheid; en (2) die noodsaaklikheid om die inhoud van die 8ste en finale verslag van die toenmalige Volkstaatraad, waarna in die Volksraad se funderende verklaring verwys word, te bestudeer.

 

Die Staatsprokureur het die Volksraad se regsverteenwoordiger versoek om aan hom ‘n kopie van dié verslag, wat blykbaar nie in die Staat se argiewe gevind kan word nie, te voorsien.

 

Aangesien die hof waarskynlik die bogemelde redes as geldig sal beskou en die Staatsprokureur se versoek om uitstel sal kondoneer, het die Volksraad teësinnig ingestem dat uitstel verleen word tot 18 Julie 2014.

 

Andries Breytenbach

Voorsitter


Comments are closed.

Post Navigation