20 Januarie 2015

Die Boere-Afrikanervolksraad het weer deur sy regsverteenwoordiger ‘n skrywe aan die Suid-Afrikaanse Regering se regsverteenwoordigers gestuur met die eis dat die gesprek wat in Augustus 2014 plaasgevind het, dringend opgevolg moet word.

Tydens die gesprek tussen die Volksraad en adjunk-president Cyril Ramaphosa, is ooreengekom dat ‘n opvolggesprek noodsaaklik is, en is voorgestel dat dit in ongeveer drie maande tyd sou plaasvind.  Tot dusver is niks weer van die ANC-regering verneem nie.

Tydens sy eerste volledige sitting vanjaar, het die Volksraad dit duidelik gestel dat hy sy hofaksie teen die regering opgeskort het op voorwaarde dat die gesprekvoering voortgesit gaan word.  Soos ooreengekom het die Volksraad ook ‘n Makro-Plan na Vryheid uitgewerk en aan die regering beskikbaargestel, as basis vir die volgende gesprekvoering. “As die regering nou wil voete sleep en die gesprek wil vertraag of selfs laat doodloop, sal ons geen ander keuse hê nie as om ons aanvanklike hofaansoek voort te sit,” sê mnr. Andries Breytenbach, voorsitter van die Boere-Afrikanervolksraad.

Tydens die Volksraadvergadering is ook besluit dat die Volksraad Verkiesingkommissie (VVK) gevra gaan word om verkiesingsgereed te kom. “Ons moet ‘n nuwe en breë mandaat kry, en met die oog op ‘n moontlike langer gesprek met die regering, sal ons ons basis moet verbreed en ‘n hernude en groter mandaat van die volk verkry,” sê mnr. Breytenbach.

Die Volksraad het weer eens sy ondersteuning gegee aan die VVK se grondopname. “Ons moet weet waar ons mense is wat vryheid wil hê, en wat graag hulle eiendom sal wil sien in ‘n selfstandige Afrikanerstaat,” sê mnr. Breytenbach.

Daar is ook op ‘n aksieplan besluit om die Volksraad se strewe meer plaaslik, maar ook internasionaal bekend te stel. “Die ideaal sou wees as alle volksorganisasies wat selfbeskikking vir die Boere-Afrikanervolk nastreef, veral op internasionale terrein kon saamwerk om ‘n eenvormige boodskap na die wêreld uit te dra. Natuurlik moet die ANC-regime ontmasker word as ‘n onbevoegde en rassistiese bende wat daarop uit is om die Afrikaner te vernietig, maar ons moet ook die buiteland ons boodskap van hoop en ‘n werkbare alternatief gee. ‘n Volksdepartement van buitelandse sake sou daarvoor ‘n ideale voertuig uitmaak, en die Volksraad het besluit om met ander organisasies daaroor in gesprek te tree,” sê mnr. Breytenbach.

 


Comments are closed.

Post Navigation