6 Februarie 2014

“Die Volksraad het opdrag verleen aan Mnr. Paul Kruger in sy hoedanigheid as prokureur, om ‘n Aansoek voor te berei teen die Regering van Suid-Afrika vir beregting in die Hoë Hof. Die loodsing van hierdie spesifieke Hof-aansoek is noodsaaklik in die lig van sekere vereistes wat gestel word in die Internasionale Reg aangaande die opsies en optrede van ‘n volk wat se reg op selfbeskikking geminag word.

Gedagtig aan die wenslikheid van ‘n standhoudende samestelling van die Volksraad gedurende bogenoemde litigasie-proses, het die Volksraad en die Volksraad Verkiesing Kommissie (VVK) sekere samesprekings gehou betreffende die dienstermyn van die huidige Volksraadslede. Die regsaksie sal naamlik in die loop van die volgende paar maande begin- en deurgevoer word; wat sal meebring dat die Volksraad moontlik midde-in ‘n regsgeding teen die Staat betrokke gaan wees op die stadium wat die Volksraad se dienstermyn verstryk. (Die huidige Volksraad was op 10 Oktober 2011 ingehuldig vir ‘n termyn van 3 jaar).

Die twee instansies het ooreengekom dat ‘n opvolgende Volksraadsverkiesing later vanjaar deur die VVK gefasiliteer sal word, mits finansiële- en ander noodsaaklike middele daarvoor uit die volk beskikbaar gemaak gaan word en mits sodanige verkiesing nie die litigasie- en ander prosesse wat daaruit mag voortspruit, negatief gaan beïnvloed nie. Indien dit blyk dat ‘n volskaalse verkiesing nie moontlik of wenslik sal wees nie, sal die VVK voor- of op 1 Oktober 2014 ‘n referendum hou onder reeds-geregistreerde kiesers asook onder volksgenote wat op sodanige tydstip as kiesers geregistreer mag wees of word, en waartydens die volk geleentheid sal kry om te besluit of die huidige Volksraad se mandaat vir ‘n tydperk van maksimum 2 jaar verleng gaan word al dan nie.

Die Volksraad het ‘n regshulpfonds vir die voorgenoemde aksie geskep en volksgenote het nou die geleentheid om deur hul bydraes daadwerklike steun vir die saak te betoon. Besonderhede daarvan is op die Volksraad se webblad www.volksraad.co.za beskikbaar en die Volksraad kan telefonies geskakel word by 012 940 4215.

Voorts word volksgenote wat enige bydrae in verband met die verkiesing/referendum wil lewer versoek om so gou moontlik met die VVK in verbinding te tree (tel. nr. 012 803 0712) – ons toekoms, ons kinders se toekoms en ons vryheid hang van u af”.


Comments are closed.

Post Navigation