Hiermee wil die Boere-Volksraad elke volksgenoot oproep tot voorbidding!

Dit is hierdie Donderdag dat die volksraad met die huidige regering wat heers in die land in ‘n eerste gesprekvoering gaan wees om ons onafhanklikheid te eis waarop ons geregtig is.  Dit sal egter nie uit onsself kan wees dat ons vryheid weer ons eie sal wees om tot op die hoogste vlak oor onsself te kan regeer as dit nie van die Hemelse Vader aan ons gegee sal word nie.

Laat die Skrif toe om in u hart af te sak en geloof te werk dat ons volk se heil alleen van die Hemelse Vader afhang en nie van enige mens nie, nie ‘n regeringslid of ‘n volksraadslid nie:

Psa_22:29 Want die koninkryk behoort aan die HERE, en Hy heers oor die nasies.

Psa_33:10  Die HERE vernietig die raad van die nasies, Hy verydel die gedagtes van die volke.

Psa_44:3 U self het met u hand nasies verdrywe, maar húlle geplant; U het volke kwaad aangedoen, hulle daarenteen laat uitspruit.

Psa_44:12 U gee ons oor soos slagvee, en U het ons onder die nasies verstrooi.

Psa_46:7 Nasies het gebruis, koninkryke het gewankel; Hy het sy stem verhef; die aarde bewe.

Psa_46:11 Laat staan en weet dat Ek God is; Ek sal hoog wees onder die nasies, hoog op die aarde.

Psa_47:4 Hy bring volke onder ons en nasies onder ons voete.

Psa_47:9 God regeer oor die nasies; God sit op sy heilige troon.

Psa_66:7  Hy heers vir ewig deur sy mag; sy oë hou wag oor die nasies. Laat die wederstrewiges hulleself nie verhef nie. Sela.

Psa_67:5 Die nasies sal bly wees en jubel, omdat U die volke regverdig oordeel en die nasies op aarde lei. Sela.

Psa_78:55  En Hy het nasies voor hulle uit verdrywe en dié aan hulle as afgemete erfdeel laat val, en Hy het die stamme van Israel in hulle tente laat woon.

Psa_80:9 ‘n Wingerdstok het U uitgetrek uit Egipte; U het die nasies uitgedrywe en hom geplant.

Psa_98:2  Die HERE het sy heil bekend gemaak, sy geregtigheid voor die oë van die nasies geopenbaar.

Psa_106:27  en om hulle nageslag te versprei onder die nasies en hulle te verstrooi in die lande.

Psa_106:47  Verlos ons, HERE onse God, en versamel ons uit die nasies, dat ons u heilige Naam kan loof en ons beroem in u lof!

Psa_113:4  Die HERE is hoog bo al die nasies; bo die hemele is sy heerlikheid.

Psa_117:1  Loof die HERE, alle nasies! Prys Hom, alle volke!

Psa_135:10  wat baie nasies verslaan het en magtige konings gedood het:

 

Duidelik moet ons gedagtes en harte gevul wees met die feit dat daar maar net een ware God is, en dit is Hy alleen wat bepaal wie regeer en wie nie.  Dit is tot Hom alleen wat ons ons vertroue kan stel om ons weer genadig te wees as volk en aan ons die voorreg te gee om oor onsself te regeer. 

Weet egter dat God mense opwek om te werk en opwek om ook te bid sodat Hy Sy eie doel kan bereik.  En weet in tye van groot sake soos hierdie, dat God behae het in hulle wat bereid is om te vas en te bid.  God het Nehemia opgewek om juis dit te doen, sodat God deur Nehemia weer Sy volk se vryheid kon herstel het:

Neh 1:4  En toe ek hierdie woorde hoor, het ek gesit en ween, en ek het dae lank getreur; en ek het gevas en gebid voor die aangesig van die God van die hemel

Neh 1:5  en gesê: Ag, HERE, God van die hemel, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat U liefhet en u gebooie onderhou—

Neh 1:6  laat u oor tog opmerksaam en u oë oop wees, om te luister na die gebed van u kneg wat ek vandag voor u aangesig bid, dag en nag, vir die kinders van Israel, u knegte, terwyl ek die sondes van die kinders van Israel bely wat ons teen U gedoen het; ook ek en my familie het gesondig.

Neh 1:7  Ons het baie verkeerd gehandel teenoor U, en ons het die gebooie en insettinge en verordeninge wat U aan Moses, u kneg, beveel het, nie gehou nie.

Neh 1:8  Dink tog aan die woord wat U aan Moses, u kneg, beveel het, naamlik: As julle ontrou is, sal Ek julle onder die volke verstrooi;

Neh 1:9  maar as julle jul tot My bekeer en my gebooie onderhou en dit doen—al was julle verjaagdes aan die einde van die hemel, dan sal Ek hulle daarvandaan versamel en hulle bring na die plek wat Ek verkies het om my Naam daar te laat woon.

Neh 1:10  Hulle is tog u knegte en u volk wat U verlos het deur u grote krag en deur u sterke hand.

Neh 1:11  Ag, Here, laat u oor tog opmerksaam wees op die gebed van u kneg en op die gebed van u knegte wat verlang om u Naam te vrees; en laat dit tog vandag u kneg geluk, en verleen hom barmhartigheid voor die oë van hierdie man. Ek was naamlik skinker van die koning.

 

En daarby het die Here Jesus ons geleer dat hierdie laaste geslag nie sal deurbreek tot God as dit nie is in meer as gebed nie, nl in gebed en vas nie:

Mar 9:28  En toe Hy in die huis kom, vra sy dissipels Hom afsonderlik: Waarom kon ons hom nie uitdrywe nie?

Mar 9:29  En Hy sê vir hulle: Hierdie geslag kan deur niks anders uitgaan as deur gebed en vas nie.

 

Duidelik hang ons volk se vryheid nie daarvan af of die regering nog altyd ons onafhanklikheid wou erken of nie, ook nie of ons as volksraad met woorde van menslike wysheid en oorredings vermoe in enige vergadering gaan triomfeer nie.  Alles hang daarvan af of die Drie-enige God van die hemel en aarde, wat alleen heers oor die nasies en volke, wat Hy sal bepaal.  Verder bepaal hy ook die tye wat Hy enige volk in ballingskap sou stuur, en wanneer Hy hulle verlossing gaan bewerk.   Solank ons net volhardend sal wees in ons werk, en in ons gebede tot Hom, soos ons in die volgende twee teks gedeeltes kan sien:

Dan_2:21  Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan; Hy verleen wysheid aan die wyse manne en kennis aan die wat insig het;

En:

Luk 18:1  En Hy het ook aan hulle ‘n gelykenis vertel met die oog daarop dat ‘n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie,

Luk 18:2  en gesê: Daar was ‘n regter in ‘n stad wat God nie gevrees en geen mens ontsien het nie.

Luk 18:3  En daar was in daardie stad ‘n weduwee, en sy het gedurig na hom gekom en gesê: Doen reg aan my teenoor my teëparty.

Luk 18:4  En ‘n tyd lank wou hy nie; maar daarna het hy by homself gesê: Al vrees ek God ook nie en al ontsien ek geen mens nie,

Luk 18:5  tog sal ek, omdat hierdie weduwee my moeite gee, aan haar reg doen, sodat sy nie eindelik kom en my in die gesig slaan nie.

Luk 18:6  Toe sê die Here: Hoor wat die onregverdige regter sê.

Luk 18:7  Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval?

Luk 18:8  Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?

 

Daarom roep ons u op om erns te maak met die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, hierdie week, sodat Hy ons geroep tot Hom kan verhoor, en dat Hy Sy magtige arm in beweging kan bring oor ons volk se toekoms, en dat dit tot ons vryheid kan dien.

  1. Drie sake is van belang, eerstens dat ons Hom sal nader in gebed en vas ter wille van Hom self, ter wille van Sy eer: 

Psa_57:10 Ek wil U loof onder die volke, o Here, psalmsing tot u eer onder die nasies.

En

Psa_108:4 Ek wil U loof onder die volke, o HERE, en psalmsing tot u eer, onder die nasies;

 

Ons kan slegs verwag dat die Here ons sal verlos, as ons bereid sou wees om in ‘n land van vryheid Hom te dien en Sy eer alleen te soek.  Nie materialisme, of eie genot en plesier of die afgode van hierdie wereld nie.

2Kor 6:16  Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.

 

Dit is ook hier waar ons die Here kan herinner aan die feit dat hierdie goddelose regering met Hom spot soos hulle al in die verlede gedoen het, en dat Hy vir Sy heilige Naam moet intree en hulle moet onttroon, en weer aan ons ‘n eie grond gebied sal gee waar ons Hom sal dien met vrees en eerbied.

Psa_110:6  Hy sal ‘n strafgerig hou onder die nasies; Hy maak dit vol dooie liggame; Hy verbrysel ‘n hoof oor ‘n groot land.

En ook:

Psa_82:8  Staan op, o God, oordeel die aarde! Want U het erfbesit van al die nasies.

En ook:

Psa_94:10  Sou Hy wat die nasies tugtig, nie straf nie—Hy wat die mens kennis leer?

 

So besluit om u te verbind in gebed om Hom te wil dien volgens Sy Woord in die gebied of deel van die land, of die hele land wat Hy aan ons sal gee as ons Hom sal dien tot Sy eer.

Psa_96:3  Vertel onder die nasies sy eer, onder al die volke sy wonders.

 

  1. Tweedens roep ons u op tot gebed sodat ons ook belydenis sal doen van persoonlike sondes in ons eie lewens, (beslis nie vir apartheid nie) sodat daar nie ‘n skeidsmuur sal wees tussen ons en God nie:

Jes 59:1  Kyk, die hand van die HERE is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie;

Jes 59:2  maar julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.

 

Ons kan nooit verwag dat die Here aan ons ons vryheid moet terug gee, as ons willens en wetens met sonde in ons lewens sit waarmee ons nie wil breek nie.  Aan Israel het die Here gesê voordat Hy die land Kanaan aan hulle sou gee:

Deu 30:1  En as al hierdie dinge oor jou kom, die seën en die vloek wat ek jou voorgehou het, en jy dit ter harte neem onder al die nasies waarheen die HERE jou God jou verdryf het,

Deu 30:2  en jy jou tot die HERE jou God bekeer en na sy stem luister net soos ek jou vandag beveel, jy en jou kinders, met jou hele hart en met jou hele siel,

Deu 30:3  dan sal die HERE jou God jou lot verander en Hom oor jou ontferm; en Hy sal jou weer versamel uit al die volke waarheen die HERE jou God jou verstrooi het.

Deu 30:4  Al was jou verstrooides aan die einde van die hemel, daarvandaan sal die HERE jou God jou versamel, en daarvandaan sal Hy jou gaan haal.

Deu 30:5  En die HERE jou God sal jou bring in die land wat jou vaders in besit geneem het, en jy sal dit in besit neem; en Hy sal aan jou goed doen en jou vermenigvuldig meer as jou vaders.

 

Doen dus belydenis van die sondes in jou lewe, en gee jou lewe aan die Here oor om volgens Sy Woord en wil alleen te lewe.  Sou die volgende dinge in u lewe wees, breek dan daarmee:

1Kor 6:9  Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie?

1Kor 6:10  Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.

1Kor 6:11  En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.

 

Dit is so noodsaaklik dat ons sal besef ons kan nie die seën van die Here verwag aan die een kant, maar aan die ander kant wil ons nie die vryheid wat ons van Hom vra en verwag gebruik om Hom alleen te dien daarmee vorentoe nie.

 

Daar is net een rede waarom die Hemelse Vader enige volk sal red en aan hulle weer vryheid sal gee, en dit is dat dit tot Sy eer en Sy eer alleen sal wees.  Dit sluit beslis in dat ons sal kies om volgens Sy Woord te lewe as ons sou beweer ons begeer vryheid tot Sy eer.  Dit moet ons enigste motief in enige gebed wees, ook wanneer ons as volk Hom in die gebed gaan ken en nader hierdie week, en elke week van elke vergadering vorentoe.

En is die beginpunt vir elke volksgenoot om persoonlik reg te maak voor die Here wat verkeerd mag wees in ons lewens:

2Kron 7:13  As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur,

2Kron 7:14  en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.

2Kron 7:15  Nou sal my oë oop wees en my ore luister na die gebed van hierdie plek.

2Kron 7:16  So het Ek dan nou hierdie huis verkies en geheilig, dat my Naam daar kan wees tot in ewigheid, en my oë en my hart sal altyd daar wees.

2Kron 7:17  En wat jou betref, as jy wandel voor my aangesig soos jou vader Dawid gewandel het, deur naamlik te doen net soos Ek jou beveel het, en my insettinge en my verordeninge onderhou,

2Kron 7:18  dan sal Ek die troon van jou koningskap bevestig, soos Ek dit jou vader Dawid beloof het deur te sê: Daar sal vir jou nooit ‘n man ontbreek wat in Israel sal heers nie.

2Kron 7:19  Maar as júlle afkerig word en my insettinge en my gebooie wat Ek julle voorgehou het, verlaat en ander gode gaan dien en julle voor hulle neerbuig,

2Kron 7:20  dan sal Ek hulle uitruk uit my land wat Ek aan hulle gegee het, en hierdie huis wat Ek vir my Naam geheilig het, sal Ek van my aangesig wegwerp en daarvan ‘n spreekwoord en ‘n spotlied maak onder al die volke.

 

  1. Derdens en laastens roep ons u op tot vas en gebed sodat ons spesifiek sal bid vir die saak van vryheid, om onafhanklik te regeer oor onsself, sodat ons Hom alleen kan dien in die land wat Hy aan ons wil terug gee as ons reg gemaak het met Hom.

Joh 16:23  En in daardie dag sal julle My niks vra nie. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee.

Joh 16:24  Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie. Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.

 

Solank ons God se eer eerste stel, en binne Sy wil bid, sal Hy ons verhoor.   Wees spesifiek oor die saak, met opregtheid teenoor God en Sy eer alleen. 

 

Hoe moet ons dit doen?

Ons stel voor dat daar drie dae van gebed sal wees vir hierdie saak, vanaf Dinsdag tot en met Donderdag.  Ons roep u ook op tot vas en gebed.  U kan gedeeltelik vas en bid sou u werklik nie anders kon nie.  Andersins roep ons u op tot vas en gebed vir die hele drie dae vanaf Dinsdag tot Donderdag.

 

Voorstel een:

Drink net water as u gesondheid dit sou toelaat (nie vir suikersiekte lyers nie), en spandeer die drie etenstye in gebed vir hierdie saak, een uur in die oggend, een uur in die middag, en een uur in die aand.

 

Voorstel twee:

Sou u moet werk en nie af tyd kan neem (onbetaalde verlof as u hierdie offer kan bring) nie, bid een uur voor werk, u middag ete een uur, en ‘n uur na werk.

 

Voorstel drie:

Sou u dit werklik onmoontlik vind om drie dae die aangesig van die Here te soek, dat u ten minste Donderdag die tyd sal uitkoop om niks anders te doen as om die dag in gebed deur te bring vir ons volk se vryheid, en spesifiek vir wysheid en leiding en ‘n kalm gees tydens Donderdag se vergadering nie.  Dit kan juis God se tyd wees vir ons volk se nuwe vryheid.  Kies om deel daarvan te wees.

 

Kies om die hele Donderdag af te neem as u kan, en bid saam met ander of alleen, terwyl die vergadering aan die gang is.

Sou u in die Carletonville omgewing wees, of bereid wees om te ry, sal ons kerk gebou te Grundlingstraat 49, Uitbreiding 9, oop wees vir die hele Donderdag vanaf 08:00 tot en met 17:00 om te kom bid.  Vir een uur of die hele dag net soos u dit kan doen, of gedurende u etenstye. 

U kan ook help om ander geboue in u omgewing te reël vir gebruik waar ander kan heengaan om saam te bid.  Dit kan wees vir Dinsdag of Woensdag of Donderdag of vir al drie dae.  Ons kan nie voorskriftelik wees nie, waar mense tyd kan maak om te bid moet ons nou werklik bid.

 

Onthou; dit was juis toe die gemeente in gesamentlike en eendragtige gebed verkeer het dat die Here ‘n engel gestuur het om Petrus uit die gevangenis uit te gely het.

Hand 12:5  So is Petrus dan in die gevangenis bewaak; maar daar het ‘n aanhoudende gebed tot God deur die gemeente vir hom opgegaan.

 

Hand 12:7  En meteens staan daar ‘n engel van die Here by hom, en ‘n lig skyn in die gevangenis. Toe slaan hy Petrus op die sy, maak hom wakker en sê: Staan gou op! En die boeie het van sy hande afgeval.

 

Hand 12:10  En toe hulle by die eerste en die tweede wag verbygegaan het, kom hulle by die ysterpoort wat na die stad lei, en dit het vanself vir hulle oopgegaan. En hulle het buitekant gekom en een straat ver gegaan, en dadelik het die engel hom verlaat.

Hand 12:11  Toe kom Petrus tot homself en sê: Nou weet ek waarlik dat die Here sy engel gestuur en my gered het uit die hand van Herodes en uit al die verwagtinge van die Joodse volk.

 

Die belangrikste wat u ooit kan dink om te doen is om vir ons vryheid te bid.  Gebed is die eerste en belangrikste wapen wat ons nou het om vry te kan wees.

2Kor 10:3  Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie;

2Kor 10:4  want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp,

2Kor 10:5  terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,

 

 

Moenie luister na hulle wat wil beweer dit is ‘n saak van onmoontlikheid nie:

Luk 18:26  Daarop sê die wat dit gehoor het: Wie kan dan gered word?

Luk 18:27  Maar Hy antwoord: Die dinge wat by mense onmoontlik is, is by God moontlik.

 

Kom wees deel van die oplossing tot ons vryheid en soek die aangesig van die Here hierdie week!

By voorbaat dank aan u namens die Boere-Volksraad wat u gebede meer nodig het as enige iets anders!

Ds F.S. Devenier, Carletonville

 

Vir navrae skakel die Voorsitter van die Volksraad, mnr Andries Breytenbach, of skakel my as u meer wil weet rondom ons gebeds versoek. Ds Ferdie Devenier, 078 215 1394


Comments are closed.

Post Navigation