Die Proses en Vordering

1. Die Regering word deur die Volksraad per brief in kennis gestel dat hy op grond van die Verkiesing, oor ‘n mandaat beskik om namens ons volk te praat en ons te verteenwoordig. Tydens ‘n amptelike vergadering word die Regering deur die Volksraad in kennis gestel dat ons volk eis dat die Regering beslag gee aan die Volk se reg tot selfbeskikking. Indien die Regering wel geneë is daartoe, word in onderhandeling getree ten einde die praktiese implementering daarvan te beding wat betref ligging en grootte van ‘n gebied waar ons onsself sal regeer; moontlike oorgangsreëlings in die lig van huidige bevolkingsamestellings in so ‘n gebied; en dergelike ander aspekte wat eers op daardie stadium ter sprake is . Voorstelle insake grootte en ligging van ‘n gebied moet aan die volk voorgelê word vir finale goedkeuring en, indien die volk ook op daardie stadium uiteenlopende standpunte het in hierdie opsig, word die verskillende voorstelle op volksvergaderings ter stemming gebring waarna by die meerderheidsmening berus word. Onthou ook dat ons eie staat nie noodwendig ‘n geografies-aaneengeslote gebied hoef te wees nie – Kanada lê byvoorbeeld tussen die VSA en sy deelstaat Alaska. Ons sou as volk dus ook kan besluit op meerdere stukke grondgebied.

Die Regering word met ander woorde geleentheid gebied om grondgebied op vreedsame wyse aan ons terug te gee of oor te dra (dus, dieselfde proses wat Pres. Kruger sedert die anneksasie van Transvaal in 1877 gevolg het).

2. Indien die huidige Regering nie bereid is om hoegenaamd aan ons selfbeskikkingreg beslag te gee nie, verbreek hy sy eie Grondwet en ook internasionale verdrae. Stap 2 behels dat die Volksraad die internasionale gemeenskap (byvoorbeeld die Verenigde Nasies of die Onverteenwoordigde Nasie en Volkere Organisasie) versoek om te bemiddel in die dispuut. Sou die proses suksesvol wees, vind dieselfde proses soos hierbo uiteengesit dan plaas.

3. Indien laasgenoemde vir welke rede ookal nie suksesvol is nie, behels Stap3 dat die uitkoms van al die Volksraad se pogings aan volksvergaderings voorgelê moet word, waartydens die volk by wyse van meerderheidsbesluit sal kan stem of by die toestand berus gaan word al dan nie. Sou die Volk besluit om nie by die toestand te berus nie, sal ook dan moet besluit word op stappe wat dan gevolg sal word.


Registreer as kieser op die VVK se kieserslys

Ten einde u mandaat aan die Volksraad te gee, moet u as kieser op die VVK se Kieserslys registreer.


Klik hier om verwys te word na die VVK se registrasie-prosedure.